0

Die Demokratiese Republiek van Braai 2 – Jan Braai #Boekenuus

Suid-Afrika se braaimeester en die vader van Braaidag, JAN BRAAI, het al meer as 150 000 boeke verkoop

Die Demokratiese Republiek van Braai 2
NUWE UITGAWE
ISBN: 9780798183147
Beskikbaar in Engels:  The Democratic Republic of Braai 2 – Jan Braai

“Dis jou demokratiese reg om ordentlik gebraaide kos te eet. Die Demokratiese Republiek van Braai is enige plek waar jy saam met vriende en familie om ’n vuur staan om ons nasie te vier, waar jy geselsies maak en stories deel.”


Nasionale Braaidag in September is om die draai en Human & Rousseau, ’n afdeling van NB Uitgewers, en Bookstorm maak met trots bekend dat meer as 150 000 van Jan Braai se braaiboeke al in Afrikaans en Engels verkoop is. Met meer as 77 000 volgelinge op Instagram en 292 000 op Facebook, is Jan Braai voorwaar ’n huishoudelike naam.

Sy regte naam is Jan Scannell, en braai is sy lewe. Hy het Nasionale Braaidag in 2005 begin en sy doel is ’n nasionale viering van die een aktiwiteit wat alle Suid-Afrikaners, ongeag ras, taal, gender of beursie, in gemeen het – kosmaak oor die kole. Sy TV-reeks Jan Braai vir Erfenis is sedert 2011 ’n jaarlikse treffer op kykNET.

Louise Grantham, uitgewer by Bookstorm, sê: “Bookstorm het in 2012 met Jan Braai begin saamwerk aan sy aanbevelings vir die beste braai en ons het sedertdien saam ses boeke uitgegee (die Afrikaanse uitgawes in vennootskap met Human & Rousseau). Ons is ingenome dat Suid-Afrikaners deur die jare al meer begin staatmaak het op Jan se plat-op-die-aarde resepte vir die perfekte maaltyd oor die kole. Ons het regte vir sy boeke in verskeie lande verkoop, waaronder die VK, Nederland en die Tsjeggiese Republiek, en daarmee die Suid-Afrikaanse braaigees oor die wêreld heen uitgevoer. Hierdie mylpaal bevestig net weer – Jan Braai is ’n fenomeen in Suid-Afrika.”

Jan Braai se uitgewer by Human & Rousseau, Lindy Samery, sê: “Jan is Suid-Afrika se bobaasbraaier. Sy maklike, praktiese benadering tot braai laat alles beter smaak. As jy lief is vir braai, maak seker jy kry ten minste een van sy resepteboeke, want elke boek leer jou verskillende aspekte van braai. Die nuwe uitgawe van Die Demokratiese Republiek van Braai bevat ’n keur van nuwe resepte en ’n nuwe omslag. Dis die ideale geskenk vir enige Suid-Afrikaner wat daarvan hou om kos oor die kole gaar te maak vir vriende en familie.”

Vir meer oor Jan Braai, besoek www.braai.com of volg hom op Twitter, Facebook of Instagram.

Jan se boeke: 
Fireworks 9781920434922
Jan Braai Braaibroodjies and Burgers 9781928257820
Red Hot 9781928257578
Shisanyama 9781928257462
The Democratic Republic of Braai 2 9781779950024
The Vegetarian Option 9781928257677
Braaibroodjies en burgers 9780798181488
Die Demokratiese Republiek van Braai 2 9780798183147
Shisanyama: Braairesepte van Suid-Afrika 9780798176361
Vegetaries 9780798179379
Vuurwarm (Softcover) 9780798178174
Vuurwerke (Softcover) 9780798176033