0

Foto’s en Fairy Lights deur An-Mari do Carmo

Foto's en fairy lights
An-Mari do CarmoFoto’s en Fairy Lights deur An-Mari do Carmo is ‘n hartverwarmende verhaal met temas van selfontdekking, familiebande, liefde en passie. Hierdie boek word absoluut aanbeveel vir jong tieners wat hou van ‘n goeie roman met ‘n plaaslike geur.

Die hoofkarakter, Elzandri, is ‘n plaaskind in graad 11. Sy is ‘n boeiende karakter wat ‘n passie vir fotografie het. Ek wys nou seker my ouderdom, maar sy het my nogal aan Saartjie Baumann herinner.

Sy moet haar pa oortuig dat sy nie universiteit toe wil gaan nie, maar eerder haar eie fotografiebesigheid wil begin. Die druk van hierdie besluit en die gevoel van nie inpas nie, maak haar ‘n baie realistiese karakter. Haar verstrooidheid en oënskynlike gebrek aan deursettingsvermoë voeg ‘n laag van opregheid by die verhaal.

Foto's en fairy lights
An-Mari do CarmoDie dinamiek tussen die hoofkarakter en die knorrige buurseun, wat toevallig haar broer se beste vriend is, is ‘n hoogtepunt. Dit bring ‘n element van romantiek en selfs spanning in die verhaal.

An-Mari do Carmo se skryfstyl vloei natuurlik. Sy skep ‘n atmosfeer wat jou laat voel asof jy saam met die karakters op die plaas rondloop en die ligte van die fairy lights sien skitter.

Foto’s en Fairy Lights is ‘n lekker leesstof vir jong tieners wat op soek is na ‘n boek wat nie net vermaaklik is nie, maar ook ‘n bietjie dieper gaan. Dit is ‘n roman wat jou laat glimlag en dalk selfs ‘n traan laat afvee.

Dankie aan NB Uitgewers vir die kopie, asook my mede-lesers in ons #saamlees groepie.

Oor die boek: NB Uitgewers | Foto’s en fairy lights

Oor die skrywer: Tuis | An-Mari do Carmo (anmaridocarmo.co.za)