Chef Nic van Wyk is alombekend as “Kokkedoor” en “Kokkedoortjie” beoordelaar, maar lank voor dit het sy reputasie hom vooruit geloop, as ‘n meester op sy gebied. Hy is tans die hoofchef by die restaurant by Kleine Zalze, en was voorheen by ander gesogte en bekende restaurante en wynplase soos Haute Cabrière, Bistro 13 en Terroir (ook voorheen by Kleine Zalze).
Hy is welbekend vir sy talent om eenvoudige, smaaklike en onopgesmukte kos te maak. Dis hoekom ek so opgewonde was toe ek gesien het dat hierdie boek, “Brood & Botter: ‘n Lewe van Kook” op die rak verskyn het. Hierdie boek huldig sy 21 jaar (sover!) in die industrie, en ek was gereed om van sy geregte self te probeer!
@roelia_reads Hierdie boek!! 😍 Chef Nic van Wyk se heel eerste kookboek “Brood & Botter – ‘n Lewe van kook” is propvol nostalgie, gemakskos en gunstelinge. En eenvoudig pragtig om deur te blaai! Die moeilikste besluit is watter resep om eerste te maak? Dankie @NB Publishers #roeliareadsandcooks #roeliareads #southafricatiktok #kooksuidafrikaans ♬ Yum Yum Yum – Sansous, Morgan & Nercessian, Maxime
Uit die Voorwoord:
“Dit is só in die kol dat Nic se eerste kookboek, “Brood & Botter” gedoop is. Dié twee smaakgesante vorm immers saam die volmaakte eenvoud en balans – die brood is aards en eg, met botter wat weelde bring.”
Die voorwoord is geskryf deur die minlike Errieda du Toit.
Die boek is ingedeel in die volgende hoofstukke:
- Die Begin 21 Jaar van kook
‘n Bietjie meer oor Nic se grootword jare. So tussen sy ma se spyseniersbesigheid en sy naweek werk by ‘n ‘pub’ vir sakgeld, het jong Nic vroeg al geweet wat vir hom bestem is. Dit was interessant om te lees dat hy ook ‘n kranige krieketspeler was, het selfs vir ‘n seisoen klubkrieket in Engeland gespeel. Toe hy terugkeer Suid-Afrika toe, het sy loopbaan in kos amptelik begin. Die jong Chef Nic het sy kookloopbaan by La Colombe in Constantia begin – in sy eie woorde, ‘n restaurant sonder gelyke. Hy praat ook oor die ander restaurante waarby hy betrokke was, asook sy televisie optredes as Kokkedoor beoordeelaar.
- Onthoukos my kinderdae
Die resepte in hierdie hoofstuk is vol nostalgie en interessante staaltjies . Van “Skaapblad met Groenboontjiebredie” tot “Brood, botter en vet biltong” (die foto op die voorblad van die boek), is pure eenvoud en tradisie. Daar is soveel resepte wat my mond letterlik laat water het, maar die eerste een wat ons uitprobeer het, was die “Slakke in Knoffelsous”. Dit was eenvoudig heerlik! Ons was gelukkig om ‘n eg Franse rosé in die yskas te hê, so dit was die perfekte dis!
- Restaurantkos van toe tot nou
Alles wat jy nodig het om jou soos ‘n volwaardige chef te laat voel – in jou eie kombuis. Die klassieke smake en tegnieke wat jy sal nodig hê, soos hoe om jou eie aftrekstel te maak, asook risotto, en die perfekte Béarnaise sous, is ingesluit. Hierdie is die disse om te “impress”. Maar, in Nic van Wyk se tipiese styl, sonder vreeslike fieterjasies of moeilik-verkrygbare bestandele. Die “Mossels met Chorizo en Room” en “Gebakte Stokvis met Harissasous” is gemerk om te probeer!
- Hartskos mondig en vorentoe
Hierdie is ‘n versameling “gemakskos” resepte. Dekandente pasta geregte, tuisgemaakte brood, polenta, poeding. Lipleklekker. Die “Kits-Cassoulet” en “Rissiesous-hoender” is bo-aan die lys van disse wat ons binnekort sal moet maak!
Chef Nic antwoord ook die vraag wat baie chefs gevra word – wat sal hulle kies as hulle “laaste maaltyd”. Sy antwoord was baie interessant gewees, en hoe meer ek dink daaraan, dit is so gepas! Wat dink jy was dit gewees?
Met dank aan NB Uitgewers vir die geleentheid om uit “Brood & Botter” te “Lees en Kook”!
Meer inligting: Nic van Wyk – Brood & Botter