Oor die boek:
(Inligting deur Penguin Random House SA)
Dit is daardie tyd van die jaar wat ons almal dink aan gesonder eet. Dit is somer, die nuwe jaar is om die draai – en behalwe dit, lê die feesgety nog voor! Met ‘n groot liefde vir lekker eet, is ek altyd op soek na nuwe inspirasie in die kombuis. Alhoewel ek baie lief vir koolhidrate is, maak dit tog sin om ten minste vir ‘n paar etes per week ‘n bietjie minder daarvan te verorber.
Dis sommer ook wat hierdie boek wegspring mee. Iné Reynierse is ‘n kundige op die gebied van funksionele voedkunde en gebruik die geleentheid om sommer uit die staanspoor uit die hele “low carb” fenomeen te verduidelik. Sy gesels oor die voedingswaarde van makro- en mikrovoedingstowwe, vitamienes, ens. sonder om dit te ingewikkeld en gekompliseerd te laat klink. Op die ou einde, gaan alles tog om balans, en die resepte in die boek word gelys as “Skoon-Keto”, “Lae-Koolhidraat” en “Slim-Koolhidraat”, wat dit makliker maak om goeie en gesonde keuses te maak, afhangende van jou persoonlike behoeftes. Niemand is dieselfde nie, so alle eetplanne werk nie noodwendig vir almal op dieselfde manier nie.
Hier is ‘n opsomming van die hoofstukke, en dan ‘n paar resepte wat dadelik my oog gevang het:
- Lae Koolhidraat Noodsaaklikhede: Elkedag-pesto met sonneblomsaad, Vinnige Voedselverwerker-Blatjang (wat ek ook al probeer maak het), Amasi Roomkaas, Bessiekonfyt met vars Roosmary
- Ligte Maaltye, Bygeregte en Souse: Patathappies, Indiese Gebraaide Kool, Kerrieblomkoolslaai, Slaai met Brusselse Spruite Roket en Appel.
- Hoofmaaltye: Kerrielamsvleisfrikkadelle op fyn Pampoen en Skorsie, Hoender Paprikash, Skelvis met Gebraaide Sampioene, Marokkaanse Viskoekies in Gerookte-Paprika-En-Tamatiesous
- Brode, Gebak & Lekkernye: Grondboontjiebotterbrood, Groen-Ertjie-En-Jogurt-Platbrood, Khachapuri, Wortel-Pampoen-En-Neutmuffins
en natuurlik soveel meer!
So bo genoem, ek het die Vinnige Voedselverwerker-Blatjang probeer. Ek het die wel ‘n bietjie fyner gemeng en as ‘n kook-sous vir hierdie hoender-maalvleis slaaiblaar larb gebruik. Die geure was heerlik (hoender-maalvleis kan mos maar redelik smaakloos wees), ek sal dit definitief weer maak.
@roelia_reads #FoodieFriday met Iné Reynierse se “Low Carb is Lekker Drie”. Alles in hierdie boek lyk heerlik! @Penguin Random House SA #roeliareads #BookifyZA #kookboek #Resepte #lowcarb ♬ Chill days (foodie) – Arkei