“Resensie” is so pretensieus nie waar nie? Seker omdat ek deesdae bitter min in Afrikaans skryf, so wees my spelling maar genadig!
Oor die boek: Tenk van Pieter Stoffberg #Boekenuus
“Tenk” is historiese fiksie wat afspeel gedurende die tyd toe die SAW (Suid-Afrikaanse Weermag) gewikkel was in die “Grensoorlog” in die destydse Suidwes-Afrika (nou Namibië).
Dit was ‘n baie persoonlike terugblik vir my gewees, want sien, dit was alles deel van my grootwordjare. As ‘n sogenaamde “Army Brat” het alles soos ‘n ou herinnering gevoel. Dit was ‘n interessante ondervinding – iets tussen traumaties en troos, as dit moontlik kan sin maak? Die meeste plekke waarna verwys word, is plekke waar ek al was, of baie vertroud mee is. Ek het al soveel keer in Ratels en Rooikatte gery, en gedurende daardie laaste paar jare in Suidwes is ons gereeld skool toe gevat in Buffels – en dit was so normaal soos bus ry is vir ander skoolkinders. Tempe, De Brug, Grootfontein (ook hier ‘n groot gedeelte van my skoolloopbaan deurgebring) en LGS op Lohatla (waar ons ook gebly het nadat die SAW onttrek het uit Suidwes). Het die laaste van my hoerskooljare daar deurgebring, en selfs by die einste 61 Meg op Lohatla gewerk vir ‘n kort wyle nadat ek klaar gemaak het met universiteit. My Pa was ‘n kommandant (later luitenant-kolonel), en ‘n “tiffie’, so ek het die gedeeltes waar hulle tot die redding gekom het, vreeslik geniet! Soos enige weermag familie-lid het ons min geweet, maar baie vermoed, en nog meer onderdruk. En hy het, jare later, gepraat van ontmoetings met Jonas Savimbi – en daardie tyd Unita en FAPLA (a.k.a. die “ters” of “terroriste”) was op almal se lippe. Dis om te lees van ‘n familie skande, want ons almal weet dat die wreedheid waarvan niemand praat nie, elke dag gebeur het.
Al die weermag jargon en terme was bekend en gemaklik, alhoewel daar is ‘n handige ‘gids’ op die laaste paar bladsye vir die wat nie so vertroud daarmee is nie. Hoeveel mense weet dat die “States”, nie die “United States of America” was nie, maar wel Suid-Afrika?
Maar genoeg van my eie verwysingsraamwerk, ‘n bietjie meer van die boek self.
In “Tenk” is daar baie karakters. Vir vinnige verwysing, veral vir die eerste paar hoofstukke, is daar ‘n bladsy wat mens herinner wie wie is – dit kom handig te pas. Mens gaan op ‘n reis saam met hierdie groep mans – sommige nog bitter jonk en onervare, vandat hulle hoor van die “spesiale operasie” waarvan hulle deel gaan wees. Natuurlik word hulle almal ontplooi “grens” toe, as deel van Operasie Modulêr. Dit in die tyd van oorlog. Daar is ‘n konstante wroeging tussen “doen wat jou vaderland jou vra” en die besef dat bloedige geweld – en vrees vir jou lewe – tog nie is waarvoor almal geweet het hulle voor inlaat nie. Een van my gunsteling karakters was Luitenant Pietie de Villiers, die mediese offisier. Wat ‘n byna onbegonne taak het hy nie! Daar is ‘n stadige, maar spanningsvolle opbou na die uiteindelike “Slag van Cuito Cuanavale”, wat as een van die grootste keerpunte in Suider-Afrikaanse geskiedenis is. Oorlog gaan nie net oor wapens en geskut nie, dit is die mense wat betrokke is wat die ware storie vertel. Die karakter-ontwikkeling, asook die skrywer se insig in die militere wêreld en hoe dit aan die leser geskets en oorgedra word is indrukwekkend, en mens word diep meegesleur.
“Tenk” is nie noodwendig maklike leesstof nie, natuurlik oor die tema. Die meeste van die karakters in “Tenk” is nie fiktief nie, ook nie die omstandighede en plekke nie – Pieter Stoffberg het menigte persoonlike onderhoude , asook ander navorsing gedoen om hierdie storie te kan vertel.
Ek glo dat enige iemand wat deur daardie tye geleef het (enige iemand wat in die 1980s moes diensplig doen, of in die Staande Mag was – of soos ek, in ‘n weermag familie grootgeword het), asook die wat ‘n intieme kyk na moderne oorlogvoering in Suider-Afrika na soek, sal die boek geweldig geniet. Pardon the pun.
“Tenk” deur Pieter Stoffberg word uitgegee deur Penguin Random House SA
Lees ‘n uittreksel hier