0

Tenk van Pieter Stoffberg #Boekenuus

Tenk Pieter StoffbergOor die boek (van Penguin Boeke/Books)

11 November 1987. Generaal Magnus Malan erken vir die eerste keer tydens ’persverklaring dat Suid-Afrika in Angola oorlog maak.

Tussen skermutselings word die leser tussen die blaaie van Pieter Stoffberg se boek, Tenk, rond gegooi.

Skaars vind die leser vastrapplek tussen die eindelose geweervuur, die Angolese bos wat deur oorlogsvoertuie in grasvlakte ontdaan word, of dit is ’n nuwe kartets skote, elders in die reusemasjien van honderde voertuie en duisende soldate, ’n ander makker se bloed wat vloei.

Operasie Modulêr – die laaste klompie maande van 1987 – is ’n draaipunt in die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) se stryd teen die kommuniste – Fapla, die Kubane, Russe – op die Namibiese grens. Een van die grootste veldslae in Angola, met tenks aan albei kante.

Militêre historici, geskiedskrywers, politieke analiste hét al oor Operasie Modulêr geskryf. Die getalle, die slaankrag, die uitdagings, die oorwinnings. Maar Pieter Stoffberg stel die leser voor aan wérklike mense – Leon Marais, Awie Erxleben, Lappies Labuschagne, Pietie de Villiers, Rob Jefferies – met wie hy gaan praat het oor hul onthou van die sand, stof, vlieë en duiselingwekkende sterrehemel snags. Met fiksie as rytuig bied hy aan lesers die geleentheid om die wérklike verhaal – van teikenaanwysings, sit in ’n boom vir ure om die vyand dop te hou, ’n tenk wat onder vyandelike aanval sy rusper verloor – te lees.

LEES ‘N UITTREKSEL >>

Pieter Stoffberg is die skrywer van twee kortverhaalbundels, Die hart van die hond (wenner van die Eugène Marais-prys), Kruispunt en die roman In die lig van vuur. Tenk is geskryf tydens ’n MA in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy is ’n prokureur en woon in Ermelo.

*Inligting verskaf*