Mevrou Smit ry Aronspoort in. Sy het hierdie plattelandse dorpie gekies as haar nuwe blyplek – of is dit nou, skuilplek? ‘n Nuwe begin, ‘n nuwe identiteit, nuwe vooruitsigte.
Hierdie vurige vrou slaap toe nou sommer die eerste aand al in die tjoekie. En stap in haar nuwe blykplek in, net om ‘n lyk in haar kombuis te kry. Bliksem, wat ‘n begin!
Die karakters in “Die Fantastiese Mevrou Smit” is so kleurvol soos die voorblad van die boek. Die stereotipiese plattelanders, kompleet met ‘n Mevrou Dominee and ‘n aantreklike dokter. Maar wag, is daar tog meer as wat die dorp se skinderbekke raaksien?
Mevrou Smit draai nooit doekies om nie, en sy is duidelik nie daar om vriende te maak nie, so ek het haar karakter vreeslik geniet! Seker omdat ek wens dat ek ook so selfversekerd in my opinies kan wees.
Natuurlik krap sy waar dit nie jeuk nie (wat hier dalk ‘n goeie ding is!), is nie bang om op tone te trap nie, is eintlik vrek ongepoets en laat haarself glad nie intimideer deur die plaaslike ‘hooggeplaastes’ nie. En natuurlik, sy is Mevrou Smit, niemand weet eers wat haar voornaam is nie?
Ek is dalk effens oorsensitief, maar al wat my gepla het, is die feit dat die ekstra gewig en vetrolletjies om Mevrou Smit meer na ‘n “Tannie” te laat lyk, soms beskryf is asof ekstra kilogramme direk verteenwoordigend aan “minder aantreklik” of “slonserig” is? Maar dit is seker net ek!
Daar was gedeeltes in die boek waar ek letterlik hardop gelag het, soos die:
“Wat drink jy?” vra Anderson se knapie nuuskierig.
“Aperol. Wil jy ‘n slukkie hê?”
“Nee dankie. Dit lyk soos Oros!”
Dan is daar wyshede:
“Hulle sê ‘n ma is slegs so gelukkig soos haar ongelukkigste kind.”
En skerp waarhede:
“Die dorp se kerk is werklik mooi en die argitektuur het haar vir ‘n paar minute besig gehou. Die ou gebou het ‘n statigheid wat verlore gegaan het in die ontwerp van al die ander kerke waarin sy al was. Seker nie vergelykbaar met katedrale in Europa nie, nee. Minder prag en praal, meer erns. Dit is ‘n gebou wat mense kan aanspoor om hulle sondes te oordink. Nie te bieg daaroor nie, want bieg is ‘n ander saak. Dit sit nie in protestante se bloed om te bieg nie. Hulle huigel en swyg.”
Ek het erens gelees dat ‘n “cosy mystery” as ‘n “knussie” beskryf word in Afrikaans – en ek hou nogal daarvan. Hierdie “knussie” is die ideale manier om net te ontsnap. Dis pret, bekoorlik, vermaaklik, maar met ‘n moord (of meer) wat opgelos moet word, en die vrae oor Mevrou Smit se (donker?) verlede, natuurlik nie altyd net grappies en giggel nie. O ja, moenie vergeet van die spook en die ystervark nie.
“Die Fantastiese Mevrou Smit” is presies die tipe boek wat my opgewonde maak en motiveer om meer in Afrikaans te lees!
Hierdie is die skrywer, Elizabeth Wasserman se eerste volwasse roman. Sy skryf gewoonlik kinder- en jeugboeke. Asseblief Elizabeth, ons is reg vir ‘n volgende Mevrou Smit!
Die Details:
1 Response
[…] Die book is die opvolg op “Die Fantastiese Mevrou Smit”. […]