0

Kookboek Inspirasie: Kosbaar van Elmarie Berry

Ek was so opgewonde toe ek gehoor het dat Elmarie Berry se eerste kookboek oppad is. Ek volg vir Elmarie al ‘n hele paar jaar op sosiale media en ons het ook al ‘virtueel’ saam gebak (onthou jy die pynappel en gemmer mini koeke vir Delheim, Elmarie)? Haar resepte en kos-en-wyn kombinasies is altyd heerlik and nie te intimiderend nie – soos wat dit moet wees.

Elmarie se “Kosbaar: Skep Herinneringe met ‘n Feesmaal” is ‘n pragtige boek. Die fotografie, deur Lindy Kriek, is warm en stylvol en die geregte lyk sommer watertand lekker. Elke resep het ook ‘n kort inleiding, agtergrondstorie of herinnering wat daarmee saamgaan, wat mens ‘n goeie insig gee in Elmarie as mens.

@roelia_reads

Blaai saam met my deur Elmarie Berry se “Kosbaar”. ‘n Pragtige #kookboek propvol inspirasie! #roeliareads #BookifyZA #LeesAfrikaans #KookAfrikaans @penguinrandomhousesakids @jansbookbuzzblog @spicegoddessblog @bookify_za

♬ Afrika – Instrumental – Yxng Ice

“Kosbaar” is in die volgende hoofstukke ingedeel:

“My Trousseau Geskenk aan Jou” – dit is een van my gunsteling hoofstukke in die boek. Sommer so aan die staanspoor uit, deel Elmarie nostalgiese, traditionele resepte. ‘n Ware trousseau wat van geslagte af oorgedra is – en kan nog verder kan word – met disse soos melktert, pannekoek, fudge, Peppermint Crisp tert, varsgebakte brood ens.

“Koningskos oor die Kole” – as ‘n nasie is ons natuurlik baie lief vir braai en daarmee saam, ook geregte wat oor die kole of op ‘n oop vuur gemaak kan word. Hier deel sy resepte vir roosterkoek, beesvleis potjie, hoenderkerriepot, maar ook ‘n dit verby die tradionele, soos sampioen-en-kaas quesadillas, pita burgers met Griekse jogurtsous en so meer.

“Samesyn – almal is Welkom” het geregte wat ideaal sal wees, vir daardie lang en lui middagetes. Waar familie en vriende saamkom en kwaliteit tyd saam spandeer. Kos is natuurlik amper die belangrikste gedurende daardie spesiale kuiers – dit bring almal saam en speel ‘n kardinale rol in die geseligheid. Hier kry ons disse soos Gebakte patats met za’atar-speserye, Roomys met Griekse jogurt, gemmer & neute en ‘n dekadente pavlova. Samesyn is ook die naam van Elmarie en Lindy se dekor maatskappy – volg hulle gerus op Instagram, hulle produkte is so uniek en eenvouding pragtig! https://www.instagram.com/samesyn_sa/

“Kos & Wyn Skep ‘n Simfonie” is my gunsteling hoofstuk! Natuurlik! Elmarie deel ‘n paar nuttige wenke, asook voorstelle vir kos en wyn kombinasies. Sy wys net weereens dat dit nie regtig so kompleks hoef te wees nie. Daarmee saam is daar ook heerlike resepte, soos Geroosterde Tamatiesop, Botterkerrie Hoenderpasta en Risotto met Gort. Van die geregte is so vinnig en maklik, en is heerlike kortpadkos.

“Moenie Jouself Vergeet Nie” sluit ‘n hele paar graanvrye resepte in. Omdat ons deesdae meer bewus is van wat ons eet, en hoe ons liggame reageer om sekere voedsel en voedselgroepe, is ‘n graanvrye dieet nie meer so ongehoord nie. Hier is ‘n resep vir graanvrye beskuit en botterskorsie-en-gemmersop (onder andere) wat mens sommer dadelik lus maak om dit te probeer!

“Wees dankbaar en deel” sluit resepte in uit Elmarie se resepteboek wat sy op die jonge ouderdom van 13 jaar oud al begin bymekaar maak het. Daar is ‘n tuisgemaakte tamatiesous, sjokolade-espressokoek, gebakte kaaskoek en so meer.

“My Reis-Ontdekkings Gee Inspirasie” is presies wat dit is. Sy deel resepte van geregte en disse wat sy in verskillende lande al probeer het, en wat haar so gefasineer het, dat sy die by die huis moes probeer. Kaasballetjies uit Mauritius, Eend in Toskaanse Rooiwynsous, Shake Shack-Kaas-Burgers uit New York – dis ‘n behoorlike kosreis!

“Nuwe Seisoene beteken groei” wat ‘n versameling seisoenale geregte insluit. Resepte vir Spinasieslaai met peer, bloubessie en bloukaas (ek het die een probeer – dit is fantasties!), Appel-en-Dadeltert is hier ingesluit.

• En laastens “Die Laaste Maal”. Sondagkos soos Pampoentert en Haselneut-en-sampioen hoenderpastei laat my sommer wens elke dag is Sondag!

Soos wat mens deur die hoofstukke blaai, leer mens meer van Elmarie se inspirasie, motivering en agtergrond. Asook die groot invloed wat haar ouma, van Libanese afkoms, op haar manier van kook en gebruik van geure en kleure gehad het. Kosstories is die beste stories, en dit is hoe ons die nageslag ook eer.

Welgedaan met ‘n lieflike boek. Dis is inspirerend om so ‘n kwaliteit produk in Afrikaans te lees en sien.

“Kosbaar” word gepubliseer deur Penguin Boeke Suid-Afrika. Lees gerus meer hier

Met dank aan Penguin Boeke vir my kopie, in ruil vir ‘n eerlike resensie.