In “Roulette”, Sidney Gilroy het my ontvoer na die Vrystaatse landskap, bekend vir sy koue winters en nog kouer stiltes, en bied ’n misdaadroman wat nie net spanning wek nie, maar ook diep grawe in die Afrikaner se psige. Ná “Bloedsomer“, wat reeds ’n stewige indruk op my gemaak het, is “Roulette” ’n meesterstuk wat die genre van plattelandse noir tot sy uiterste neem.
Opsomming
Die roman spring tussen twee tydlyne: 1998, toe ’n groep tieners hul somer by die see deurbring, en 2025, wanneer daardie selfde tieners, nou volwassenes, as verdagtes in ’n reeks grusame moorde beskou word. Sersant Sollie Mthembu, terug op sy voete ná persoonlike en professionele storms, word gekonfronteer met ’n ou dossier wat hom dwing om nie net ’n moordenaar te identifiseer nie, maar ook sy eie familiegeheime te konfronteer.
Die Ludick-drieling: Lötter, Duan en Oscar, vorm die kern van die verhaal, saam met hul vriende Cornelius, Hendrik en Johan. Lara, die jong Ludick-suster, is die sneller van die gebeure wat volg. Die titel “Roulette” verwys na beide Russiese roulette: ’n dodelike speletjie wat die seuns speel en die dobbelspel waar keuses en kanse die uitkoms bepaal. Hierdie dubbele betekenis is sentraal tot die roman se tematiek: die wiel draai genadeloos.
Wat werk in die boek
Gilroy se dekonstruksie van die plaasroman is briljant. Hy loer in die Afrikaner se erfstukkas en ontbloot die donker kant van manlikheid: toksiese gedrag, onderdrukte emosies, en die stiltes tussen mans wat tot geweld lei. Die roman is nie net ’n whodunnit nie, maar ’n ontleding van hoe seuns grootgemaak word, hoe hulle leer om te swyg, en hoe daardie stiltes uiteindelik skree.
Die karakterisering is skerp. Die spanning is intens, met ’n narratiewe tegniek wat die leser se stresvlakke laat styg,’n meesterlike truuk wat nie hier verklap kan word nie. Gilroy se taalgebruik is beeldend, sy dialoog eg, en sy insigte ontstellend eerlik.
Wie sal dit geniet
Lesers wat hou van misdaadfiksie met sielkundige diepte sal “Roulette” verslind. Dit is vir diegene wat nie net wil raai wie die moordenaar is nie, maar ook wil verstaan hoekom.
Algemene indruk en slot
“Roulette” is ’n roman wat bly spook. Dit is donker, intens, en eerlik. Gilroy se vermoë om spanning, karakter en sosiale kritiek te verweef, maak van “Roulette” ’n uitsonderlike leeservaring.
In die Vrystaat se koue, waar die wind deur die mielielande huil, draai die roulettewiel. En niemand weet waar dit gaan stilhou nie.
Dankie aan NB Uitgewers/Jonathan Ball Publishers vir die geleentheid om hierdie boek te kon lees.

Wat werk in die boek