0

Waar Bloed Kruip deur Marieta Carrick

Waar Bloed Kruip deur Marieta CarrickWaar Bloed Kruip neem my terug na die bekende maar steeds onheilspellende gange van Noordeberg Hospitaal, ’n ruimte waar die ligte nooit heeltemal helder genoeg is nie en waar elke voetstap ’n vraagteken word. Marieta Carrick lewer hier ’n mediese sielkundige riller wat jou aandag vaspen van die eerste bladsy af en jou tot die laaste oomblik laat wonder wie die ware gevaar is.

Storie-opsomming

Lola Anley, ’n briljante mediese student, arriveer vol hoop en ambisie by Noordeberg Hospitaal. Sy kry ‘n kamer in die gesogte Straumann Huis voel soos ’n bevestiging dat sy op die regte pad is. Die vreugde is egter kortstondig wanneer sy ontdek dat sy in die kamer van Asher Parker gaan bly, ’n student wat ’n jaar tevore op kampus vermoor is. Die moord is nooit opgelos nie en die moordenaar loop steeds vry rond.

Vreemde dinge begin in die huis gebeur. Huismaats tree aggressief op, onverklaarbare insekte-plae duik op en skaduwees beweeg net-net buite sig. Boonop word Lola se nagte versteur deur drome oor haar oorlede tweelingsuster, drome wat meer voel as net herinneringe. Terwyl sy probeer om haar studies, haar veiligheid en haar eie geheime te balanseer, word dit duidelik dat Asher iets geweet het wat hom sy lewe gekos het. En iemand is vasbeslote om te keer dat Lola dieselfde waarheid ontdek.

Waar Bloed Kruip Marieta CarrickWat het gewerk

Carrick se grootste krag lê in haar vermoë om spanning te bou sonder om die leser te oorlaai. Die atmosfeer is dig en deurdrenk van paranoia, maar steeds helder genoeg dat die menslikheid van die karakters deurkom. Lola is ’n besonder sterk hoofkarakter: intelligent, kwesbaar en vasberade, voortdurend bewus van die dun lyn tussen intuïsie en gaslighting. Die dinamiek in Straumann Huis, met sy geheime, maskers en subtiele boeliegedrag, skep ’n geloofwaardige en dreigende omgewing.

Die mediese elemente is uitstekend verweef. Te midde van die chaos kry ons wel ook insig in Lola as aspirant-dokter, moeg maar gefokus en vol empatie. Dit aard die verhaal en gee dit ’n realistiese ritme tussen adrenalienpieke.

Die raaisel rondom Asher se dood is slim gestruktureer, met genoeg vals leidrade om jou brein oortyd te laat werk. Die moontlikheid van ’n sindikaat, ’n meesterbrein of bloot ’n enkele wraakgedrewe individu hou die spanning lewendig.

Waar Bloed Kruip Marieta Carrick Roelia ReadsWie sal dit geniet

Hierdie boek is ideaal vir lesers wat hou van:

  • mediese thrillers met ’n sielkundige ondertoon
  • kampus-raaisels vol geheime en onbetroubare karakters
  • stories waar niemand heeltemal is wie hulle voorgee om te wees nie
  • hartklopspanning, gaslighting en stadig-ontrafelende onthullings

Algemene indruk

Carrick skep ’n wêreld waar elke deur ’n bedreiging kan wees en elke glimlag ’n masker. Dit is ’n riller wat jou laat wonder, laat raai en laat twyfel, en jou steeds verras. Die resultaat is ’n donker en bevredigende leeservaring vir enigiemand wat hou van spanning wat stadig stywer draai.

Met dank aan Jonathan Ball Uitgewers (Queillerie)

As jy van hierdie boek gehou het, lees: 

Bloed van ’n vlinder deur Marieta Carrick

Bonsaimeisies deur Erla Diedericks